
’n Groep Christen kundiges van die maatskaplike- en korporatiewe sektors het in 2008 bymekaargekom na aanleiding van ’n gedeelde besorgdheid vir die welstand van die Stellenbosch gemeenskap, en spesifiek hoërskole. Die maatskaplike sektor word verteenwoordig deur ’n onderwyser, sielkundige, maatskaplike werker en ’n leraar terwyl die korporatiewe sektor verteenwoordig word deur ’n boekhouer, besigheidsman en ingenieur. Community Keepers het onstaan vanuit gesprekke rondom die baie uitdagings wat moderne jeug die hoof moet bied en die behoefte vir effektiewe ondersteuning aan hulle. Beduidende vennootskappe tussen kenners en die gemeenskap kan hierdie behoefte aanspreek en daar is besluit dat ’n Afdeling 21 nie-winsgewende maatskappy die mees effektiewe struktuur is waardeur sulke vennootskappe gevorm kan word. Community Keepers is formeel geregistreer en werksaamhede is begin.
Om gesonde, effektiewe en selfbehoudende gemeenskappe te bevorder deur verskeie psigo-sosiale, opvoedkundige, rekreasie- en materiële belange in Suid-Afrikaanse skole aan te spreek.
VENNOOTSKAP
Samewerking om ’n gemeenskaplike doel
VERTROUE
Werk met opregtheid en betroubaarheid
INNOVASIE
Aandag aan kapasiteitsbou
STANDVASTIGHEID
Beoefening van morele moed, dissipline en verantwoordelikheid
ONS HOOFDOELWITTE IS
ANDRÉ DU PLESSIS VOORSITTER
André het die grade BComm en BComm (Hons) behaal en het as geoktrooieerde rekenmeester (SA) gekwalifiseer. Hy het 25 jaar ondervinding as ’n besigheidsadviseur, finansiële konsultant en as ’n strategiese- en finansiële bestuurder. Hy was die Uitvoerende Hoof van Finansiële Bestuur vir Boland PKS en NBS Boland vanaf 1996 tot 2000 en ’n vennoot by Arthur Andersen waar hy vanaf 1986 – 1996 gewerk het. André het in 2000 by die Capitec Bankgroep aangesluit as een van die stigterslede, waarna hy as Finansiële Direkteur van die groep aangestel is. André is die nie-Uitvoerende Voorsitter van die Community Keepers Bestuursraad.
PHILIP GELDENHUYS UITVOERENDE DIREKTEUR
Philip het tussen 2002 – 2006 ’n BA-graad in Maatskaplike Werk en ’n MA-graad in Maatskaplike Werk (cum laude) by die Universiteit Stellenbosch verwerf. In 2006-2007 het hy deeltyds by die Universiteit Stellenbosch gewerk as studieleier vir eerstejaarstudente en het studente gehelp met die praktiese komponent in Maatskaplike Werk. Hy het ook as navorser en programfassiliteerder by die organisasies NIMRO (Nasionale Instituut vir Misdaadvoorkoming en die Rehabilitasie van Oortreders) en GOLD (“Generation of Leaders Discovered”) gewerk. In 2008 was Philip betrokke by die totstandkoming van Community Keepers en het as die Uitvoerende Direkteur van die organisasie begin werk.
JOHANN ASPELLING
Johann het die grade BComm, BComm (Hons), MComm en ’n NOS (Nagraadse Onderwys Sertifikaat) by die Universiteit Stellenbosch voltooi. Hy is sedert 1978 in diens van die Universiteit Stellenbosch en is tans die Registrateur van die instansie.
ERNST HERTZOG
Ernst het in 2002 die graad BIng (Bedryfs-Elektronies) by die Universiteit Stellenbosch voltooi. Hy het sy studies voortgesit en die graad MIng (Bedryf) by dieselfde universiteit verwerf en het in 2008 ’n MBA-graad by die Universiteit van Kaapstad verwerf. Ernst het tussen 2004 en 2007 as ’n strategiese- en beplanningsingenieur by Vodacom in Midrand gewerk. Hy is tans in diens van Medi-Clinic in hulle Bedryfsdepartement en is gebasseer by hulle hoofkantoor in Stellenbosch.
ANNETJIE LOUW
Annetjie het in 1974 ’n Hoër Onderwysgraad by die Universiteit van Pretoria verwerf en in 1975 het sy haar loopbaan as onderwyser begin. Sy het 33 jaar ondervinding in die skoolomgewing as onderwyser, vakadviseur, visie-hoof en hoof. Annetjie is tans die hoof van Buren Hoërskool in Milnerton.
DANIE MOSTERT
Danie het in 1984 ’n Diploma in Finansiële Bestuur en Bemarking by die Tygerberg Tegnikon verwerf. Danie het 16 jaar ondervinding in kleinsakebestuur en –handel en is tans ’n direkteur en mede-eienaar van Fidders in Stellenbosch.
DIANA NEL-HUGO
Diana het in 1991 ’n BA Ed graad by die Universiteit van Pretoria verwerf waarna sy haar loopbaan as onderwyser in 1994 begin het. Oor ’n tydperk van 16 jaar (1992-2008) het sy by verskeie skole klasgegee, insluitend Grootfontein Hoërskool (Namibië), Swartland Hoërskool, De Doorns Hoërskool en Paarl Gimnasium. Diana was betrokke by loopbaanvoorligting en berading, wat bydra tot haar omvattende, multi-kulturele begrip van leerders en onderwysers in Suid-Afrikaanse skole.
CORLISCHA BOTHA SKOOLBERADER
Corlischa het in 2007 ’n BEd Sielkunde-graad by die Universiteit Stellenbosch verwerf. Tydens haar studies was sy betrokke by ’n verskeidenheid opvoedkundige programme insluitend “Big Brother Big Sister” Suid-Afrika en die Umfeledi Sorgsentrum. Corlischa het haar praktiese vereistes by La Rochelle Meisieskool (Paarl), waar sy in Lewensoriëntering en Geskiedenis gespesialiseer het, en by Excelsior Hoërskool (Belhar) waar sy as hulp-onderwyser (Wiskunde en Leesondersteuning) gewerk het, voltooi. In 2008 het Corlischa by Brighton College, Engeland onderwys gegee waar sy gespesialiseer het in Lewensoriëntering en groepsleiding vir meisies. Sy was ook ’n assistent-onderwyser in Engels. Corlischa het in Januarie 2009 op ’n permanente basis by Community Keepers aangesluit en het in Julie 2009 by die HPCSA (Raad van Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika) geregistreer as ’n skoolvoorligter.
ESTELLE HERTZOG DIEETKUNDIGE
Estelle het in 2005 ’n BSc-graad in Menslike Voeding by die Universiteit Stellenbosch voltooi en haar gemeenskapsdiensjaar by die Natalspruit Hospitaal, Katlehong in Johannesburg voltooi. Estelle is in diens geneem deur Kibwe Kids (voormalig Afrikids) tussen 2007-2008 waar sy gehelp het om hierdie organisasie, wat met wees- en kwesbare kinders werk, te vestig. Sy was ’n gas-dosent by die Afdeling Menslike Voeding (Departement Interdissiplinêre Gesondheidswetenskappe) by die Universiteit Stellenbosch (2007 – 2008) waar sy klasgegee het vir tweedejaar dieetkundestudente oor voeding deur die lewensiklus. Estelle het in 2009 met haar meestersgraad in Voeding by die Universiteit Stellenbosch begin waar sy op MIV-kleutervoeding en gemeenskapsontwikkeling fokus. Sy werk ook deeltyds vir Community Keepers.
PHILIP GELDENHUYS MAATSKAPLIKE WERKER
AS ABOVE
ANNEMARIE YOUNGLESON KLINIESE SIELKUNDE
Annemarie het gedurende 2001-2006 ’n BPsig–graad (cum laude) en ’n MA-graad (Kliniese Sielkunde en Gemeenskapsberading) (cum laude) by die Universiteit Stellenbosch verwerf. Tussen 2006 en 2008 het sy by die Valkenberg Psigiatriese Hospitaal, die Rooikruis Kinderhospitaal en die Tygerberg Akademiese Hospitaal gewerk. Hier is sy blootgestel daaraan om te werk met minderjariges waar sy hoofsaaklik met gevalle van depressie, angs, aandag-afleibaarheid- en hiperaktiwiteitsindroom (ADHD), gedragsprobleme, ontwikkelingsprobleme en eetversteurings te doen gehad het. In 2009 het Annemarie ’n privaatpraktyk begin en werk tans by Oakdale praktyk in Kaapstad. Sy is ook besig om haar eie praktyk in Stellenbosch uit te brei en werk ook deeltyds vir Community Keepers.
JOYLENE SMITH MAATSKAPLIKE WERKER
Joylene het in 1993 ’n BA-graad in Maatskaplike Werk by die Universiteit van die Wes-Kaap voltooi. Sy het 13 jaar ondervinding as ’n maatskaplike werker en terapeut en het verskeie kursusse in trauma-ontlonting, narratiewe terapie en rouberaad-ondersteuning voltooi. Sy het by verskeie organisasies gewerk, insluitend Hesketh King Alkohol- en Dwelmbehandelingsentrum; Childline/Lifeline beradingsentrum; Stellenbosch Hospies; KANSA en die Kinderwelsynsorganisasie. Joylene is in die proses om ’n privaatpraktyk in Stellenbosch te vestig en werk vir Community Keepers op ’n ad hoc basis.
REIN TREPTOW MONITERING EN EVALUERINGSPRAKTISYN
Rein het in 2005 ’n BA-graad in die Wysbegeerte by die Universiteit Stellenbosch verwerf met Sosiologie en Filosofie as hoofvakke. In 2008 het hy ’n MPhil-graad in Gemeenskapsontwikkeling by die Universiteit Stellenbosch ontvang. In 2009 sal Rein ’n nagraadse kwalifikasie in moniterings- en evalueringsmetodes van die Universiteit Stellenbosch voltooi. Hierdie kursus rus individuee toe met die nodige vaardighede om die ontwerp, implementering en effek van sosiale, gesondheids-, onderrig- en politieke intervensies (programme, projekte, inisiatiewe en veldtogte) te evalueer en te moniteer. Rein werk tans by die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Navorsing oor Wetenskap en Tegnologie (SENWET) as ’n navorser. Hy behartig ook die monitering en evaluering van die Cummunity Keepers intervensies.
![]()